KAROO STORIES - KAROO VERLANGE

Go Back

Wednesday, 15th August 2018

An entry into the Karoo Heartland Stories Competition by Gert Rossouw

Hierdie is my klein wêreldjie op die stoep. Hier agter die somskerm sit ek en skep illusies met syfers. Die kantoor is omtrent sestig persent van my lewe. Hier is die hele betekenisvolle , onverstaanbare sirkelgang van mense se droomwêrelde. Hier is alles aanwesig en leweloos wat lewendig gemaak moet word. Hier word prestasies en teleurstellings bepaal deur die syfers op die sompomp en die note van die joodse-orrel. Quibus Auxiliis? Alles word gedoen in oorleg en ontleding van die beheerbare - en nie-beheerbare veranderlikes.Die misteriespel waarin die bekende en die onbekende en die aardse saamgeweef word om tot 'n oplossing te kan kom, om drome 'n legende te maak. Om te sien of aan die verlange en begeertes voldoen sal kan word op die kontantantvloei-beplannings en besigheidsplanne.

Ek wil weer suidwaarts ry. Wil verby plase ry, wat van horison tot horison strek, daardie boere is almal dobbelaars wat dobbel oor die volgende jaar se reën en soveel jaar het die steentjie verkeerd geval. Mens kan aan hulle 'n eer gee vir hulle entoesiasme. Lewe en sterwe word 'n uitdaging. Stel jou 'n lewe voor tussen daardie karoobossies en omtrent geen gras nie en die reënseisoen wat onvoorspelbaar is. Dit is droog daar en het hulle baie min reën oor die afgelope vier jaar gehad. Tussen die Karooplante het ek melkbos, koesnaadjies, lewerplante en aasblomme nog gekry, wat die droogte kon oorleef.

Die primitiewe aardgodin is so onvoorspelbaar, daar in die Karoo.Die een dag vrek warm, volgende dag koel en in die middle van die week, is dit witter as spierwit. Die berge word toegevou onder 'n kombers van sneeu. Dis 'n stukkie aarde wat homself kort-kort vernietig en dan met 'n reënnag en donderslae herrys tot die mooi van die Kamdeboo. Uit die materiaal van berge en dale kry 'n plek vir elkeen 'n ander gestalte, en skep elkeen vir homself sy eie mooi en eie onthoue.

Die nagte van hierdie landskap is enig. Die helderheid van die sterre maak dit 'n handvat ver, en dit het die romanse van die eerste tye van die aarde. Jou buitestaan neem jou op 'n wandeling deur die stories van Homerus. En hier is dit so duidelik en so naby, jy hoor die gode lag, of is dit 'n maanhaar-jakkals?

Oom Dickie is 'n patriarg van die Kamdeboo. Almal ken hom. As mens met Oom Dickie gesels is dit 'n bedevaarttog na die verre gisters en eergisters. Dit is 'n verset teen oud word en verset om die mooi te vergeet. Alles kleef in sy herinneringe, die verlede bestaan uit die landmerke van baie gebeurtenisse. Hy en Vona het saam die droogtes en ellende van 'n leeftyd mee gemaak. Sy vertellinge het 'n waas van romanse oor hierdie lewe. Uit sy vertellinge word die legendes weer lewendig. Ek kuier al jare daar en met verloop van tyd het ek 'n waardige burger van die huis geword. Dis gasvrye mense, groot en sterk in hulle omgee. Die gemeenskap weet alles van mekaar af, hulle skinder, maar dis nie bloot 'n geskinder nie, dit is net die omgee wat niks ongemerk sal laat verbygaan nie.

Ek reis weer die winter se besoek aan die Karoo en sy mense.

Ek koop ‘n windpomp vir Ockie by die beroemde Middelburg draadwindpompmaker van TV en selfoon faam. Die padbord wys na Graaff-Reinet en die Lootsbergpas. Ons is baie na aan ons bestemming. ‘n Bordjie langs die pad wys die rigting na die Uilhuis en ons neem die koers daarheen. Ons ry stadig op die grondpad en ek geniet die Karoo.

Die oneindigheid strek van Oos na Wes en Noord na Suid. Die dag gloei en skitter in ‘n glans van sorgeloosheid, van ‘n vrede op aarde. Die pad vleg deur die Karoobossies.

Ons bereik die kunstenaarswêreld van die Uilhuis in in Nieu-Bethesda; ‘n stukkie vreemde wêreld wat met glas versier en bemasker word, die siel van die vrou, Martins, wat nooit tot ruste kan kom, wat met haar verwaarloosde skaduwee en verdwaalde gees deur haar beeldwêreld, van glas en sement, soek.

Ek het ‘n groot behoefte, wat diep binne brand, om hierdie vreemde vrou se wêreld met iemand te deel. ‘n Wêreld wat vir my somme-brein vreemd en so onwerklik is. Die gees van die mens is soms so onbepaalbaar, talle male verberg onder die daaglikse bestaan en roetine.

Ek neem die eie lewe onder oënskou, as ek hier ronddwaal. Ons is termiete, wat eers lank onder die grond, as termiete – eier in totale duisternis lewe, vlerke vir ‘n kort tydstip kry, vir oomblikke in sy lewe hoog vlieg, in plaas van ‘n ewige heerlikheid verloor hy sy vlerke en begrawe hy homself in totale duisternis ondergronds in sy daaglikse roetines.

Ons is die verbanne kinders van Eva, verban uit die paradys, waar ons as jagters-versamelelaars in harmonie met die wêreld geleef het, verdryf in die woensty in, waar jy in die sweet van jou aanskyn jou brood moet verdien en elkeen vir homself is en die duiwel vir ons almal. Wag ‘n bietjie nou met die swaarmoedigheid, nou smeer ek botter aan die galg.

Ons vertrek later na Graaff-Reinet en bereik die plek van Oom Dickie die middag. Die volgende dag besoek ek en Mariaan die uitkykplek oor die Vallei van Verlatenheid.

Grillige strukture verrys uit die bodem van die Karoo. Dit is ‘n mirakelwerk wat geen menslike argitek kan namaak nie. Ek kyk uit op die steengeworde droom van die Groot Skepper, miskien was dit Sy oefining van ‘n Picasso/Dali meesterstuk, kontoere van ruimte en lyn en kleur en lig en skaduwee, ‘n grootsheid wat ‘n eienaardige, onwêreldse, gevoel veroorsaak.

 

Hier is ‘n tydloosheid teenwoordig wat kontoere en ruimte harmonies reflekteer. Ek staan geeiland op die berg en beleef die ontsaglike ruimtes van die Kamdeboo. Die lug is ‘n lewende leemte met onsigbare golwe wat die wit wolke aanja en, aan die sye, die wolke uitrafel. Met elke besoek wil ek ‘n stukkie van hierdie ewigheid vasgryp en diep in my bewaar. Hierdie is ‘n agresiewe soektog na myself in die wêreld se afgeleë plekke, in ‘n poging om ‘n antwoord oor die self en die menswees te vind en weer vir ‘n kort tyd tot besinning te kom. Ek is ‘n onrus-mens wat gedurig opsoek is na die lewe vol verwikkelinge en somtyds vrede soek, hier weg van die polsende lewenspatroon. Ek verlang intens na vrede en staan met ‘n belewenis in my hart en besef hoe vreeslik ek aan daardie daaglikse geheg is. Ek besef dat ek weer ingedruk en verseël gaan word in my werk se kokon van rekenaars en tegnologie. ‘n Muur wat ‘n mens omsingel en wat in my in sy grense laat verdwyn en toebot in die lewe. Hierdie geleende tye maak van die lewe weer ‘n avontuur, waar ek hier staan geniet ek elke oomblik daarvan in ‘n vreugdevolle oorgawe. Ek probeer om die gevoel met ‘n volle kwota van realisme ontleed, maar my hart gesels sy eie taal, wat ek nie kan begryp of kwantifiseer nie. Die hart se woorde het geen beperkings, geen verbod en geen grense nie. Daar is net ‘n verlange na ‘n metgesel, na daardie wêreld vol verwagte vreugdes en hoogtes, tye om saam te klets en lag en gesels oor die lewe. My gedagtes is opsoek na haar wat ek nie ken of van weet nie. Miskien moet ek my kantoormasker vir die lewe afhaal.

Die ander reis waarheen ek op pad is, is ‘n baie waardevolle reis. Die reis tussen mens en mens. Dit is intiem en kosbaar. Alles wat waardevol is, word in die geheue bewaar, dit bring herinneringe in relief. Met die gedagtes kan ek wandel in my eie klein wêreldjie, dit is goed en behoort ten minste aan my. Die Sotho’s het ‘n gesegde “ Motho kè motho ka batho. “ – Mens is mens deur mense” en met sulke besoeke kry ‘n mens so baie dinge terug wat die jare van jou verwyder en versmoor het. Ek spekuleer oor die lewe, wat my in ‘n kou, soos ‘n budgie toesluit, analiseer my behoeftes en besef dat die kennis van die verstand soms ‘n verwydering van die gees veroorsaak en dat alle vrede tussen jou en die natuur en mense dan skielik baie ver en onbereikbaar is. Daar is ‘n binnehuil, diep in my gemoed, sonder trane,

Moeders is die kosbaarste op aarde. Hulle vul ons geestelik aan in ons wêreld van verwagtings en teerhede. As hulle nie meer daar is nie, is daar ‘n groot leemte van iemand om jou blydskap en leed te deel, om sommer net te klets oor allerhande dinge en gebeurtenisse wat vir ander mense onbelangrik sou wees, ‘n oomblik van ontvlugtinge as met ma gesels word. Mariaan ruk die stilte oop, toe sy op ‘n los klip trap. Ek is terug in die werklikheid. Ek keer terug na die wintervelde, na Oom Dickie en Vona, waar ek weer baie verhale van hierdie wêreld hoor en Vona se heerlike kos en liefde sal geniet, op hulle beurt twee legende van die Kamdeboo en Karoo.

© Karoo Heartland - 2018 | Links | List / Manage Your Business | KAROO STORIES - KAROO VERLANGE

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting