ontdek die bekoring van nieu-bethesda
 

2010-02-17

 Beeld - Artikel deur Helenus Kruger

"Kom, kêrels!" roep Jakob van Staden en piets die donkies liggies op die boude. Karools en Vellies vertrek op 'n drafstappie met die donkiekarretjie deur Nieu-Bethesda se strate.

Terwyl ons rustig Jakob se begeleide donkiekartoer meemaak, jaag besoekers die dorp in, besoek die Uilhuis en jaag weer uit.

Ek wonder hoeveel van hulle werklik die dorp ervaar. Soos die vrou van Gauteng in haar luukse Duitse 4x4 wat foto's van die dorp deur die voorruit neem. Dalk was die somerhitte en die stofstrate vir haar een te veel.

Terwyl die Uilhuis wel ’n belangrike en noodsaaklike besoekpunt is, is Nieu-Bethesda soveel meer as net Miss Helen en Koos Malgas se sementbeelde.

Kyk so ’n bietjie verder en jy kan ’n juweel van ’n dorpie ontdek: die koel Karooluggie ná ’n warm somersdag, die landelike omgewing met perde in die strate en kampies weiveld vol skape, die douvoordag stap op soek vir ’n foto, die laning peerbome soos jy die dorp inkom, die leiwatervore, die vriendelike inwoners.

’n Hoogtepunt van ons besoek was die lanternloop op Oujaarsaand. Besoekers en plaaslike mense kom bymekaar en stap met lanterns deur die strate die nuwe jaar in.

Dié wat nie saamstap nie, ontspan gesellig langs die roete, sommiges sommer met hul stoele en ’n braaivuurtjie.

Draai dus gerus van die N12 af en besoek die Uilhuis, maar pak jou tent of haak jou sleepding, want sodra jy ’n bietjie meer verken, gaan dié stofstaatdorpie jou behoorlik bekoor, en maak dat jy nog ’n paar dae wil vertoef.

Nieu-Bethesda het twee opsies vir kamp: Outsiders Backpackers en die Zonnestrahl-kampterrein.

Outsiders bied beperkte kampplek vir klein tentjies, terwyl Zonnestrahl vir tente en woonwaens plek het.

Ons het ons sleepwa by Zonnestrahl staangemaak, ’n kampterrein in ’n landelike omgewing met gras, vyebome en skape wat langsaan in ’n kampie wei.

Behalwe dat dit ’n klipgooi van die Sneeuberg-brouery is (vir iets koels in die Karoohitte natuurlik), bied dit ’n paar wilgerbome waaronder jy kan skuil as die kwik – soos tydens ons besoek – bokant 37°C draai.

Die ablusiegeriewe, in ’n geboutjie met twee afsonderlike stortkamers en een toilet, het warm water. In ’n besige tyd soos Desember sal jy ’n bietjie moet wag.

Met ’n vorige besoek buite die spitsseisoen was ons egter die enigste kampeerders.

Die stortkamers is ruim, met genoeg plek om jou goed neer te sit. Alles is skoon, maar dit is beslis nie vyfster-luuks nie. Veral die opwasarea kort aandag.

Die staanplekke is nie afgebaken nie en die kragpunte is sommer hier en daar.

Die geriewe regverdig dus waarskynlik nie die tarief van R60 per persoon nie, maar die ligging en omgewing vergoed dubbel en dwars daarvoor.
 
Dinge om te doen:

Luister na dorpstaaltjies tydens een van Jakob se begeleide donkiekartoere. Die vertrekpunt is die Uilhuis en die toer duur 20 minute.

Besoek die Sneeuberg-brouery en die Two Goats-deli, en koel af met ‘n tuisgemaakte bier en ‘n Karoobord met kase, vleise, konfyte en vars brood, alles uit die omgewing. Die eienaar, André Cilliers, rooster ook koffiebone.

Stap die Nuwejaar in saam met die plaaslike mense en hul lanterns. Bespreek vooraf by die Bethesda-kunssentrum.

Eet iets by Outsiders. Hulle is heeldag oop, ook saans. Katrin se lamskenkel sal selfs vegetariërs van plan laat verander. In die besige Desember is dit wys om plek te bespreek.

Besoek kunstenaars: daar is beeldhou-, keramiek- en borduurwerk, linodrukke, draadkuns en sementbeelde.

Gaan op ‘n fossieltoer saam met die gidse van die Kitching-fossielsentrum. Die inligtingsentrum en beginpunt is langs die Uilhuis.

Besoek die Uilhuis waar Helen Martins en Koos Malgas hul sementbeelde gemaak het.

Eet boerekos by Auntie Evelynn se huis in Pienaarsig. Ons het nie tyd gehad nie, maar dit word aanbeveel deur almal wat al só ’n ete ervaar het.

Volg dié paaie:

Die paaie

Twee grondpaaie bring jou van die N12 tot by Nieu-Bethesda: die noordelike toegang sowat 60?km suid van Middelburg, en die suidelike toegang sowat 20?km noord van Graaff-Reinet.

Die suidelike roete word tans geteer.

Dit sal die dorp toegankliker maak, veral vir gewone woonwa­slepers.

Goeie nuus (vir my, altans) is dat die strate binne die dorp grondstrate gaan bly en dat die karakter van die dorp sodoende behou sal word.

Kontak

Besoek http://www.nieu-bethesda.com/ vir inligting oor die dorp.

Bel Katrin Allemans by 049 841 1642 vir Outsiders- en Zonnestrahl-besprekings.

back
 

ontdek die bekoring van nieu-bethesda

website design, search engine optimisation by ZAWebs Designs ZA Webs Valid XHTML 1.0 Transitional
web hosting by ZAWebs Hosting ZA Web Hosting